“Hef ons dan deur die geloof die wet op? Beslis nie. Ons laat die wet juis tot sy reg kom.” Rom. 3:31 Frustrasie en Mislukking Baie mense verwar vandag die Wet en die Evangelie met mekaar. Hulle dink hulle moet die Wet gehoorsaam om Christene te word. As gevolg daarvan raak hulle gefrustreerd met hul mislukking, skaamkry en skuldgevoellens. Hulle kan eenvoudig nie verstaan waarom die Evangelie nie vir hulle werk nie. Die probleem is, hulle span die spreekwoordelike kar voor die perde in. Wet en Genade
Verlossing is uit genade alleen, en word alleen deur die geloof ontvang. Ons gehoorsaam nie die Wet om gered te word nie. Ons gehoorsaam die Wet omdat ons gered is. Die Wet veroordeel – maar die Evangelie van Christus verlos. Die Wet bring ons sonde aan die lig – maar die Evangelie openbaar ons Verlosser. Die Wet verklaar ons skuldig – maar die Evangelie van Christus offer vergifnis. Die Wet eis vergelding – maar die Evangelie bevestig dat Jesus Christus ons skuld voor God betaal het. D.L. Moody het gesê: “Die Wet is ‘n spieël wat ons wys wie ons is – maar jy kan jouself nie met ‘n spieël was nie.” Wat die Wet Nie Kan Doen Nie Die Wet kan ons nie regverdig nie. Die Wet kan nie red nie. Die Wet kan nie heilig maak nie. Maar, die wet kan ons sonde aan die lig bring – dit is egter net Jesus Christus wat ons van ons sonde kan verlos. Wat die Wet Doen “Sonde is...oortreding van die Wet van God.” ” 1 Joh. 3:4 “Die wet van die HERE is volmaak: dit verkwik die siel.” Psalm 19:7 (OV) “Maar iemand wat hom verdiep in die volmaakte wet wat ‘n mens vry maak, en hom daaraan hou en nie vergeet wat hy hoor nie, maar dit doen, hy sal gelukkig wees in wat hy doen.” Jak. 1:25 Die wet oortuig van sonde (Rom. 7:7-11). Die Wet veroordeel oortredings (Rom. 4:15; Jak. 2:10). Die Wet lê boosheid aan bande (1 Tim. 1:8-11; Psalm 119:11). Die Wet dryf mense na Christus (Gal. 3:24; Psalm 19:7). Die Wet is ons riglyn vir heiligmaking (Rom. 8:4). Die Wet van God lê aan die hart van die Nuwe Verbond: “Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ‘n nuwe verbond sal sluit… Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ‘n God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees.” Jer. 31:31-33. Die Tien Gebooie reflekteer die karakter van God. “Wees heilig, want Ek die Here julle God is heilig.” Lev. 19:2 Plig en Vreugde Die mense is nooit geskep om outonoom te wees nie – d.w.s om ‘n wet vir homself te wees nie, maar wel theonoom – onderworpe aan die Wet van God. Dis nie ‘n slegte ding nie, want God het ons so geskep dat dankbare gehoorsaamheid vir ons die grootste vreugde verskaf. Plig en vreugde loop hand aan hand. Koning David het in die Psalms geskryf: “Laat my wandel volgens u gebooie, want daarin vind ek vreugde.” Psalm 119:35; “Hoe lief het ek u wet! Dit bly my elke oomblik by.” Psalm 119:97; “...u wet het ek lief.” Psalm 119:113; “Ek het U gebooie liewer as goud, as fyn goud !” Psalm 119:127. Liefde en Wet Die Apostel Paulus het geskryf: “Die wet is dus heilig, en sy voorskrifte is heilig en reg en goed.” Rom. 7:12; “Diep in my wese vind ek vreugde in die wet van God.” Rom. 7:22. En die Apostel Johannes skryf: “Die liefde vir God bestaan dan daarin dat ons sy gebooie gehoorsaam. Sy gebooie is ook nie moeilik om te gehoorsaam nie, want enigeen wat ‘n kind van God is, kan die sondige wêreld oorwin. En die oorwinning wat ons oor die wêreld behaal het, is deur ons geloof. 1 Joh. 5:2-3 Die gevalle mens haat God se Wet van harte – omdat dit Wet is, én omdat dit van God af kom. Maar, dié wat Christus ken en liefhet, het ook Sy Wet lief en wil dit gehoorsaam, uit dankbaarheid vir God se genade en seën, en om Hom te behaag. God se kinders ontdek ook dat die Heilige Gees hulle lei tot vlakke van gehoorsaamheid aan Sy Wet, wat hulle nooit voorheen kon vermag nie. Pilgrim’s Progress In Pilgrim’s Progress skets John Bunyan vir ons ‘n pragtige beeld van die verhouding tussen Wet en Genade. In dié geestelike meesterstuk word die hoofkarakter, Christian, deur Tolk na ‘n pragtige, groot vertrek gebring. Die kamer is vir jare nie afgestof of skoongevee nie. Daar lê ‘n dik laag stof en baie spinnerakke. Tolk roep toe ‘n man met ‘n besem om die vertrek skoon te vee. Terwyl die man vee, styg die stof in die kamer op, en Christian verstik, hoes en hyg na sy asem. Toe roep Tolk ‘n vrou en vra haar om die kamer met water te besprinkel. Hierna gaan lê die stof en word die vertrek maklik skoongemaak. “Wat beteken dit?” vra Christian vir Tolk. Hy antwoord dat die kamer “die hart is van ‘n man wat nooit deur die liefdevolle genade van die Evangelie geheilig is nie. Die stof is sy aangebore sondigheid en innerlike verdorwenheid, wat sy hele menswees besoedel het. Die een wat eerste begin vee het, is die Wet; maar die vrou wat die water gesprinkel het, is die Evangelie.” Wat John Bunyan hiermee vir ons wil duidelik maak, is dat die Wet ons sonde só ontbloot, dat ons geestelik skaars kan asemhaal. Ons verstik van die sonde wat deur die Wet in ons gesigte opstyg - totdat ons oortuig word van die totale verdorwenheid waarin ons verkeer. Diegene wat buite Christus is, wil nie die Wet hoor nie, want hulle weet hulle is skuldig. Dié wat in Christus is, wil dikwels ook nie die Wet hoor nie, want hulle raak beangs wanneer hulle die genade van God vergeet. Ons lees in Pilgrim’s Progress dat Christian - nadat hy vir ‘n lang tyd geworstel het met die groot en uitputtende las van skuld en sonde wat op sy rug vasgebind was – die opdraande pad na Golgota aangepak het. Terwyl hy na bo geklim het, het hy ‘n kruis gesien, en aan die kruis die Een wat die Seun van God is. Toe hy sy oë na die kruis opslaan, het die swaar skuld-las skielik losgebreek, en van sy rug bergaf gerol en in ‘n donker grafkelder verdwyn – om nooit weer gesien te word nie. Toe het drie skynende engele hom ontmoet, en hom begroet met: “Vrede vir jou!” Die eerste een het verklaar: “Jou sonde is vergewe” Die tweede engel het sy vuil, stinkende, sonde-besmette klere verwyder, en hom beklee met die wit kleed van Christus se volmaakte gehoorsaamheid, sodat hy onbevlek voor die Heilige God kon staan. Die derde engel het aan hom ‘n verseëlde boekrol gegee, met die waarborg van ewige Verlossing in God se Paradys. Genade en Vergifnis Oor één ding mag daar geen twyfel bestaan nie: Niemand sal deur Wetsonderhouding in die Hemel kom nie. Jy is ‘n skuldige wetsverbreker, wat God se vergifnis, vryspraak en genade nodig het. Enige diepgaande ontleding van die Tien Gebooie sal elke eerlike persoon tot God om genade en vergifnis laat uitroep: “Here, wees my, arme sondaar, genadig!” Skuld en Genade Sonder skuld is genade onnodig. Geen genade is nodig waar daar geen sonde is nie. As jy nie ‘n sondaar is nie, hoef God jou nie genadig te wees nie. Waar ellende nie ervaar word nie, word genade nie waardeer nie. Niemand sal na genade soek, alvorens hy skuldig pleit nie. Die Gebooie reinig ons nie; hulle oortuig ons dat ons reiniging nodig het, en dring ons om by ons Heer en Verlosser, Jesus Christus, alleen redding te soek. Dis terwyl ons na die verpligtinge van die Wet kyk, wat ons besef dat ons dit nie gehoorsaam het nie. En wanneer ons kyk na die sondes wat deur die Wet verbied word, moet ons erken dat ons skuldig is. Ons is skuldige wetsverbrekers en dit ontbreek ons aan enige hoop om deur volkome Wetsonderhouding gered te word. Tot almal wat hulle desperate nood besef, kom die Woord van God: “Kom, almal wat dors is, kom na die water toe, selfs ook dié wat nie geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder om te betaal, wyn en melk. Waarom betaal julle vir iets wat nie brood is nie, waarom werk julle vir iets wat nie kan versadig nie? Luister aandagtig na My, sodat julle kan eet wat goed is en versadig kan word met die beste wat daar is. Gee aandag en kom na My toe, luister, en julle sal lewe. Ek wil met julle ‘n ewige verbond sluit...” Jes. 55:1-3 Goeie Nuus Die Evangelie is Goeie Nuus vir almal wat besef dat hulle die Wette van die Lewende God verbreek het. God stort Sy genade uit op almal wat besef dat hulle wetsoortreders is - wat voor die troon van ons Heilige God skuldig staan. God verwelkom almal wat Hom eers gehaat en teen Hom gerebelleer het, en vergewe al ons sondes, en neem ons aan as seuns en dogters in Sy familie. En dan bemagtig Hy ons as Sy diensknegte en soldate, om in Sy Koninkryk diensbaar te wees in die stryd van die geloof. As ons maar net voor Hom wil buig en ons dade van rebellie bely, dan word Sy gawe van die Ewige Lewe ons s’n. Wortel en Vrug Niemand se goeie werke was nog ooit goed genoeg om te vergoed vir die boosheid en rebellie van die gevalle mens nie. Slegs die bloedige offer van Jesus Christus kon vir ons versoening vergoed. Dit is absoluut noodsaaklik dat ons die regte orde begryp. Dit is eers nádat ons deur geloof in Christus verlos is, dat ons deel word van die familie van God. Dit is slegs dán eers, dat ons in staat is om die Gebooie te gehoorsaam – nie om onsself te probeer red nie, maar omdat ons gered is. In ánder godsdienste doen mense goeie werke omdat hulle meen om op dié manier saligheid te verdien. Mense probeer uitreik na bó om God te ontdek. Maar in die Christendom het goeie werke heeltemal ‘n ander duiding: Dit is ons respons op die feit dat God na óns uitreik, in en deur ons Here Jesus Christus. Voordat die Eerste gebod in Eksodus 20 gegee is, het God gesê: “Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het. Jy mag naas My geen ander gode hê nie.” Eks. 20:2-3 Verlossing gaan aan gehoorsaamheid van die Wet vooraf. Dit is slegs wanneer ons God se genadige Verlossing belewe het, dat ons in staat is om Sy Gebooie op ‘n betekenisvolle manier te onderhou. Dis eers wanneer ons ons lewens heelhartig aan Christus oorgegee- en Sy reinigende en transformerende krag ervaar het, dat ons begin besef hoe die Wet van God ons harte deursoek, ons gees inspireer, ons gawes aanwend, en ons denke regeer - op die hoofweg van heiligmaking. Wanneer die Heilige Gees in ons is en ons lei, word God se morele Wet ons standaard, ons gids en ons beveiliging. Dis in ons soeke om God met ons hele hart, siel en gedagtes lief te hê, en ons krag uit Sy Almag alleen te put, dat ons die waarheid van Jesus se woorde ontdek: “"As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer.” Joh. 14:15 Woorde, Werke en Aanbidding In die tien bondige voorskrifte van die Tien Gebooie, ontdek ons al die morele deugte, die volle omvang van ons aanspreeklikheid aan ons Skepper, en ons verantwoordelikheid teenoor ons naaste. Die kern van al God se bepalings en verordeninge het in die Tien Gebooie neerslag gevind en is daarin opgesom. God vereis van elke indiwidu volkome gehoorsaamheid aan al die konsekwensies van Sy Wet. Die Groter Westminster Kategismus (Vr. 99) leer: “Die Wet bind die hele mens..tot ewige gehoorsaamheid.” “Dit is geestelik, en daarom raak dit die verstand, wil, toegeneentheid en alle ander vermoëns van die siel, asook alle woorde, werke en gebare.” “… Waar ‘n plig opgelê word, word die teenoorgestelde sonde verbied; en waar ‘n sonde verbied word, word die teenoorgestelde plig opgelê.” Wettiesisme Verwerp. As ons die Tien Gebooie bestudeer, is dit ook noodsaaklik om oor die kwessie van wettiesisme te dink. Wettiesheid is ‘n wanopvatting van gehoorsaamheid. Dit is die valse aanname dat goeie dade ‘n manier is om God se guns te verdien. Wettiesisme kan arrogante en neerbuigende aanhangers kweek, selfsugtigheid en hoogmoed huisves en alle nederigheid, vriendelikheid en liefde versmoor. Die wettiese Fariseërs was van mening dat hulle - uit hoofde van die feit dat hulle afstammelinge van Abraham was - gewaarborgde goedkeuring by God geniet het. Hulle het daaglikse onderhouding van die Wet tot die fynste besonderhede geformaliseer. En tog het hulle die hart van die Wet uitgeruk. Jesus het die geveinsdheid van die Fariseërs veroordeel, omdat hulle uiterlike vertoon hul innerlike korruptheid versteek het. Hulle was ‘n klomp adders, witgepleisterde grafte vol doodsbeendere. Hulle het hulleself graag voorgedoen as getroue onderhouers van die Wet van Moses. Maar, terwyl hulle die letter van die Wet gehou het, het hulle die belangrikste nagelaat. Hulle breedsprakige en misleide interpretasies van die Wet, het die ware gees en aard daarvan misken. Hulle het God se gesaghebbende Wet vervang met menslike tradisies, en op dié manier mense se gewetens gebind. Hulle was skynheilig, het ander veroordeel, en het die guns van mense gesoek. (Mat. 23:23-24; Mat. 15:3-9; 23:16-24; Mark. 2:16; 3:6; 7:1-8; Luk. 20:45-47; Mat. 6:1-8; 23:2-7). Wettiesheid is ‘n poging om mense se tradisies op dieselfde vlak as God se Wet te plaas. Die Judaïseerders, wat Paulus opponeer het, was wettisiste wat ander geleer het dat ‘n mens deur Wetsonderhouding gered kan word. Hulle het Christene probeer wys maak dat hulle éérs Jode moes word, alvorens hulle Christene kon word. Vir hulle was die besnydenis ‘n voorvereiste vir Redding. Hulle het die genoegsaamheid van Christus ontken, en aangedring op die onderhouding van die Joodse seremoniële wette, rituele en kalender as voorvereistes vir Verlossing. Die Apostel Paulus het in Galasiërs en Kolossense teen die dwaalleer van die Judaïsme gewaarsku, en daarop gewys dat hulle legalisme die weg van Saligheid verduister, en ‘n ondraaglike las op God se verlostes plaas. ‘n Sagte Juk en ‘n Ligte Las Ons Here Jesus Christus het gesê: "Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig." Mat. 11:28-30 He Gives More Grace “He gives more grace when the burdens grow greater He sends more strength when the labours increase To added inflictions He adds His mercy To multiply trials His multiplied peace. “When we have exhausted our store of endurance, When our strength has failed before the day is half done When we reach the end of our hoarded resources Our Father’s full giving has only begun. “His love has no limit, His grace has no measure, His power no boundary known unto men For out of His infinite riches in Jesus He gives and gives and gives again.” Verstommende genade John Newton, die destydse slawehandelaar wat later ‘n prediker geword het en ook die skepper was van die bekende lied Amazing Grace, het geskryf: “Ek is nie wat ek kan wees nie, ek is nie wat ek behoort te wees nie, ek is nie wat ek graag wil wees nie, ek is nie wat ek hoop om te wees nie; maar ek dank God ek is nie wat ek voorheen was nie, en saam met die Apostel kan ek sê ‘deur die genade van God is ek wat ek is’”. “O, to grace how great a debtor Daily I am constrained to be! And let that grace, Lord, like a fetter, Bind my wandering heart to Thee. Prone to wander, Lord, I feel it, Prone to leave the God I love; Take my heart, O, take and seal it, Seal it from Thy courts above!” Kom na die Kruis van Christus Die Wet sê ‘doen’; die Evangelie sê ‘Gedoen!’ Die Wet sê ‘gaan’; die Evangelie sê ‘Kom!’ “Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu.” Jes. 1:18 “Ek het jou nog altyd liefgehad.” Jeremiah 31:3 Niks kan ons van die liefde van God skei nie (Rom. 8:39). “Wie kan die uitverkorenes van God aankla?” Rom. 8:33 Jy het die Wet van God gehoor. Jy het die Evangelie van ons Here Jesus Christus gehoor. Het jy sonde bely en jou van jou opstandigheid teenoor God Almagtig bekeer? Bely jou sonde en word vernuwe. “Vra na die wil van die Here terwyl Hy nog te vinde is, roep Hom aan terwyl Hy nog naby is. Die goddelose moet sy verkeerde pad laat staan, die slegte mens sy slegte planne. Hy moet hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom genadig wees; hy moet hom tot ons God bekeer, Hy vergewe altyd weer.” Jes. 55:6-7 “Love so amazing, so divine, shall have my life, my soul, my all!” Dr. Peter Hammond Livingstone Fellowship Posbus 74 Nuweland 7725 Kaapstad South Africa Tel: 021-689-4480 Faks: 021-685-5884 E-pos: [email protected]
0 Comments
Leave a Reply. |
Meer Artikels
All
Archives
October 2020
|