Die hele onderwerp ‘dissipline’ word dikwels eerder vermy, as wat dit deeglik hanteer word. Die rede? Dit roep gedagtes van misbruik, verwaarlosing en sommer oor die algemeen ‘n liefdelose huis op. Selfs onder bekommerde Christenfamilies is daar so baie vrae oor die regte manier om kinders te dissiplineer wat onbeantwoord is. Ek moet nog van kerke hoor wat die onderwerp ‘dissipline’ voldoende hanteer sodat dit ouers help om oor hierdie mynveld te onderhandel. God is ‘n God van orde en nie van chaos nie – en ons huise moet dit weerspieël. Die Skrif is baie duidelik oor hierdie onderwerp en ouers behoort daarop ag te slaan. Nie net sal die siele van ons kinders dan floreer nie, maar ons huise sal veel aangenamer plekke wees vir almal wat daarin bly. In plaas daarvan om te wag totdat ons kinders baie ouer is, behoort discipline reeds in die eerste jaar of twee te begin. LEER ‘N KIND die weË van die here
Miskien is dit ‘n aangenamer term om te gebruik – ‘leer’. Spreuke sê baie duidelik dat ons ons kinders die weë van die Here moet leer, en geen lering kan sonder dissipline geskied nie. ‘n Goed-gedissiplineerde atleet is ‘n goedafgerigte atleet; met kinders is dit presies dieselfde. Ouers wat alreeds tydens die eerste lewensjare ‘n verhouding van vertroue en respek met hul kinders vestig, het alreeds hierdie eerste stap in die ‘leerproses’ geneem. Ons moet ons kinders geniet en ook sorg dat hulle ons geniet. Hulle behoort ons dikwels te sien glimlag, ons goedkeuring vir dit waarmee hulle doenig is, te sien en ons aanraking, vreugde en drukkies te ervaar. Kinders wat in hierdie omgewing opgroei, weet hulle ouers wil regtig net die beste vir hulle hê. As dit die basiese reëls is, sal alle lering hieruit voortvloei. DADELIKE GEHOORSAAMHEID Een van die eerste basiese reëls is ‘onmiddellike en vriendelike gehoorsaamheid.’ Indien ons as ouers onsself voortdurend moet herhaal, ons stemme moet verhef of moet begin tel om die regte reaksie te kry; dan moedig ons ‘vertraagde gehoorsaamheid’ aan en dit is presies dieselfde as ongehoorsaamheid. Die ideaal is natuurlik dat die reikwydte van ouers as ‘bestraffers’ nie die grense van ons vertroulikheid met ons kinders moet oorskry nie. Bestraffing moet in die atmosfeer van vertroue en respek geskied. Indien ons die harte van ons kinders verloor, verloor hulle die hart om ons te plesier en tevrede te stel. Bestraffing en tug behoort nie die oorheersende element in enige huishouding te wees nie – dit sal beslis enige verhouding vernietig. Ons kinders behoort te weet dat ons as ouers aan ‘n Hoër Gesag onderworpe is – ons Here Jesus Christus! Ons het ook grense en ons kinders behoort dit ook te respekteer. Tensy ons as ouers ons kinders leer om ons ouerlike gesag te respekteer, hoe kan ons van hulle verwag om God se gesag te aanvaar? Indien en wanneer rebellie wel kop uitsteek, is die beste om geheel en al beginselvas op te tree. REËLS BEHOORT EENVOUDIG EN BEGINSELVAS TE WEES Ons reëls behoort eenvoudig en volhoubaar te wees en ons, as die wetgewers, behoort altyd aan die wenkant te wees. God het 10 Gebooie gegee – ons behoort dus nie meer vir ons kinders te hê nie. Stel die ‘ononderhandelbares’ vas en hou daarby. Altyd. Dit is ongetwyfeld die moeilikste ding vir enige ouer aan die einde van ‘n moeilike en vermoeiende dag. Dit is tog só waar, dat baie ouers hulself eers moet dissiplineer voordat hulle hul kinders kan begin dissiplineer. MOET NOOIT UIT WOEDE DISSIPLINEER NIE Ons moet nooit uit irritasie of uit woede dissiplineer nie. Die tugtiging van kinders moet altyd ten doel hê om hulle as mense te verbeter omdat hulle siele op die spel is. Indien ‘n pakslae dan vereis word, moet dit in die privaatheid van ‘n slaapkamer geskied. Om sommer blindelings in die verbygaan ‘n hou uit te deel, was nog nooit ‘n goeie strategie nie. Neem die kind na ‘n stil plek, verduidelik die oortreding en vra of hy/sy dit verstaan. Vra hom/haar dan om gewilliglik te buk en gebruik ‘n pantoffel met ‘n rubbersool. Dit het genoeg fleksie sodat jou kind nie kneusplekke sal opdoen nie, maar dat dit tog gevoel sal word. Na die straf moet jy tyd saam met jou kind spandeer – in liefde. Herinner hom/haar daaraan dat jy vir hom/haar lief is en gee gerus ‘n drukkie of twee. Bid ook saam en maak seker dat hy/sy besef dat dit jou plig is om jou kinders volgens God se instruksies groot te maak sodat hy/sy ‘n God-erende persoon kan word. WEES REDELIK EN LIEFDEVOL Bo alles moet ons egter liefdevol, redelik, konsekwent en innerlik sterk wees. Ons moet altyd daar wees – liefdevol, glimlaggend en die toegeeflike ‘voorman’ van die huishouding. Onthou: discipline is ‘n hartsaak. Ons is die bewakers van ons kinders se harte. Indien ons op ‘n baie beginselvaste manier die rebellie van ‘n tweejarige hanteer; sal dit die lewe soveel makliker maak as die kind dertien of veertien is. Maar, dit is nooit te laat vir ouers van ouer kinders nie. BID EN BELY Ouers behoort die verkeerde hantering van dissiplinesake te bely en God te vra om hul Leidsman te wees wanneer dit by die dissiplinering van kinders kom. Soek raad in die Skrif en vra ook die hulp van ander suksesvolle ouers wat jy dalk ken. Vra jou kinders om verskoning vir jou mislukkings en verduidelik aan hulle dat dinge van nou af anders gaan wees – met Sy hulp. As ouers behoort ons nie net geïnteresseerd te wees in die akademiese of sport sukses van ons kinders nie. Ons moet ook ag gee op hul vriende. Al hierdie dinge is uiters belangrike aspekte van hul lewens, maar nie een is so belangrik as die vorming van ‘n Goddelike karakter nie. Alle sukses is vergeefs indien hul karakter, hart en gedrag nie goddelike lering weerspieël nie. GEEN GROTER VREUGDE In sy boek ‘No Greater Joy’ som Michael Pearl dit só goed op: “What can be called success if your children turn out to be part of the world’s problems rather than its cure? What satisfaction can there be in the comforts of material success, if our children grow up needing counsel rather than being sought after to give counsel. The success of a tree and a man is measured by the fruit that is borne. The fruit of a man or a woman is their children; everything else is falling leaves. Let me not measure my giving by the money I spend on them or the educational opportunities my station in life can afford them, but rather, by the hours I spend with them in fellowship. May they graduate from my tutorship to become disciples of the Man from Nazareth. May they learn good and evil from the pinnacle of obedience rather than from the pit of despair. May they have the wisdom to choose the precious, and the courage to reject the trite and the vain things in life. May they always labour for the meat that endures. May they be lovers of God, co-workers with the Holy Spirit, and a friend to the Lord Jesus. And when their trail ends, may it end at the throne of God, laying crowns at the Saviour’s feet.” INSPIRERENDE DOEL Mag hierdie doel ons inspireer om ons kinders op Goddelike wyse te dissiplineer en te leer aangesien hulle vir so ‘n kort rukkie in ons sorg is. LENORA HAMMOND is ‘n ma van vier kinders en doen ook tuisonderrig. Die artikel was oorspronklik in JUIG! tydskrif gepubliseer
0 Comments
Leave a Reply. |
Meer Artikels
All
Archives
October 2020
|