![]() “Daarop hoor ek die stem van die Here wat sê: Wie sal Ek stuur? En wie sal vir ons gaan? Toe antwoord ek: Hier is ek, stuur my.” - Jesaja 6:8, ‘n vers vanuit die Go into all the nations Bybelstudie boekies, geskryf deur die GKSA jeugdeputate om ons te help om die Evangelie te deel met die riglyne van die woordlose boekie wat bestaan uit 5 gekleurde bladsye sonder woorde: Swart = Ons sonde, ons is verlore en verdien om te sterf. Rooi = Christus se bloed het gevloei vir ons sondes. Wit = Skoongewas, Christus was weg die sonde wat ons bely. Geel = Die Hemel, glo in Christus en ontvang die ewige lewe. Groen = Groei, in geloof en kennis van God. Malawi, as gevolg van die mense se vriendelikheid bekend as die “warm hart van Afrika”, is een van die mees armste lande in Afrika. Materieel is die nood groot maar veral Geestelik is daar honger vir die suiwere Woord van God. ![]() Die GKSA jeugdeputate het met Harvesters Ministries saamgespan om ‘n Bybelplasingstoer na Malawi te reel. Ons het Bybels en bemoediging na Harvesters se kerke en predikant-studente in die veld gebring. As deel van hulle opleiding moet Harvesters se studente kerke plant, elke mens wat hulle na Christus lei word direk kerk toe genooi en geleer hoe om te Evangeliseer. Hulle christenskap gaan van die begin af hand aan hand met dissipelskap. Meeste van hierdie dissipels het nie Bybels nie en daarom leen hulle ‘n Bybel uit onder mekaar wat dit moeilik maak om effektief te werk. Baie van hierdie verafgleë kerkies wag al lank: Wie sal kom? Wie sal Bybels bring? En “ons was bang julle het van ons vergeet,” was een van die hartroendste opmerkings van ‘n leraar wat nuwe Bybels en studie materiaal gekry het. Ons dank en prys God dat Hy hulle gebede gehoor en dit gelei het dat ons deel kon wees van sy Koninkrykswerk. Ons het gegaan om ‘n seëning te wees maar het self duisend keer meer geseënd teruggekom. Sonder veel voorvalle het God ons vir duisende kilometers, sommige van die Kaap selfs meer as 7000km, veilig tot in Malawi en terug bewaar, selfs oor die rowwe Mosabiekse paaie waar hulle sê die diere (veral Kameelperde) in die slaggate verdwyn. In Malawi aangkom het ons in groepe opgedeel en ongeveer 3200 Bybels by baie verskillende kerke en versamelpute gaan uitdeel. By die eerst kerk het die mense ons singend teggemoet gedans. Ookal het hulle kerk net ‘n halwe dak gehad, was hulle vreugde en dankbaarheid aansteeklik. Met lofprysing het hulle Psalm 122 in Chichewa begin sing en ons saam die danskring ingetrek. “Ek was verheug toe die geluid, weerklink het bo die ruimtes uit: Kom, laat ons optrek hiervandaan, om na die HEER se huis te gaan!” Psalm 122 ![]() Vandag is ons so bly, dis asof ons droom Nadat een domiee 8 Bybels gekry het om onder die mans en vroue in sy kerk te verdeel het hy gese:“We are grateful to you and to God for this Gift. We are so happy. Today it is like we are dreaming.” Aan die einde van Bybelplasing dag een het ons langs die pragtige Malawimeer saam gepraat oor wat ons geleer en gesien en ook geestelik ontvang het. Ons kan almal sê ons waardeer alles meer. Christen wees = Dissipel wees = Dissipels maak Die toertema was Dissipelskap en ons het by dominee Johannes Aucamp geleer dat om Christen te wees saam moet gaan met dissipel wees en dissipels maak. Die woord “Christen” word net 3 maal in die Bybel gebruik en die woord “dissipel” is 273 maal gebruik (KJV). Met die opdrag van Mattheus 28 vars in ons geheue het ons in die mark gaan stap, met mense gessels, en vir kinders daar Chichewa traktaatjies uitgedeel, later het hulle om ons saamgekoek en een het ons na sy ma en tannies gebring waar ons toe ‘n rukkie gessels het. Voor een van die markhuisies was daar ‘n rakkie vol met Jehovah getuies traktaatjies in Chichewa, mag die Evangelie van Christus hier vinniger versprei as die Jehovah Getuies se dwaalleer. “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.” Mattheus 28:19-20 ‘He is the Saving Grace of the galaxies’ “If I die I have big problems, I’m going to hell.” Dit was Galaxy, die kampsekuriteitswag, se antwoord toe ek gevra het of hy deur die Skepper van die “galaxies” gered is. Ons het gessels en dit was duidelik dat hy sy sonde besef toe hy dringend gese het: “I must apologise to God.” Hy het toe Psalm 51 uit ‘n ChiChewa Bybel gelees,“Skep vir my ‘n rein hart, o God…”en daarna deur Romeine 8 “Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree. Wie sal ons skei van die liefde van Christus?” Hy het gesê die boodskap het sy hart blygemaak en: “I want to change my life now. I will also share this with my wife.” Dis my gebed dat hy waarlik ‘n dissipel van Christus sal wees en nie net sy vrou nie maar ook sy familie en vriende se lewens verander word deur ons wonderlike Redder en Skepper van die heelal. “In die eerste hoofstuk van die Qur’an vra die moslems hulle vir die weg, hulle bid 5 maal ‘n dag dat hulle daardie weg sal kry, die Bybel sê Jesus Christus is die enigste weg, waarheid en lewe.” ![]() Dit deel een van Harvesters se dissipels met ons; hy het ons na ‘n dorpie gevat waar al die Moslems se huisies, moskees en skole aan die linkerkant van die pad is en al die Christene se huise, skole en kerke aan die regerkant. In hierdie dorpie was daar ook ‘n seun met ‘n ANC hemp aan, dit was snaaks om te sien dat dit tot daar versprei. Hierdie dissipel was self ‘n moslem gewees en hy het tot bekering gekom deur drome waarin hy verlorenes in pyn en lyding gesien het, toe hoor hy ‘n stem wat sê as hy nie tot bekering kom nie gaan hy net soos hulle wees. Die eerste keer het hy gedink dis net ‘n simpel droom en na nog twee maal het hy steeds dieselfde droom geignoreer. Toe het hy eendag ‘n visioen gehad het waarin hy in ‘n graf geval het en ‘n stem hoor se “as jy nie vandag jou bekeer nie dan gaan jy sterf.” Hy het tot bekering gekom en van toe af is hy ‘n dissipel van Christus. Hy nooi gereeld ‘n paar moslems om by hom te kom teedrink en dan die volgende keer nooi hulle weer ander vriende om saam te kom en so gaan dit aan. Deur met hulle verhoudings te bou en sy verstaan van moslem-wees, het God hom gebruik om al baie van die Yao nasie waarvan meer as 90% moslems is, na Christus te lei. “Kom agter My aan, en Ek sal julle vissers van mense maak.” Matthéüs 4:19 ![]() In ‘n boot op die strand het ek een aand gesit en Bybellees uit Mattheüs 4 toe daar ‘n man, Eric,verbykom en vra wat ek doen. Hy het erken hy glo nie in God nie ookal het hy groot geword in die presbiteriaanse kerk. Hy het na die Evangelie geluister en hy nooi my toe om saam by sy suster, wat wel ‘n Christen is, se huis te gaan kuier. Behalwe vir ‘n rietmatjie op die vloer en ‘n rakkie vir potte en panne het hulle huisie geen meubels gehad nie, tog het hulle my welkom laat voel. Soos baie van die mans in Cape Maclear maak Eric inkomste deur skilderye van die pragtige Malawimeer, natuur en mense, te verkoop. Hy het ‘n paar vir my gegee. Een van hierdie Malawi skilderye van ‘n village met kremetartbome en inboorlinge wat kosmaak, pryk nou langs my lessenaar met drie van my gunsteling aanhaligs daaronder: ![]() "Many a morning have I stood on the porch of my house, and looking northward, have seen the smoke arise from villages that have never heard of Jesus Christ. I have seen, at different times, the smoke of a thousand villages—villages whose people are without Christ, without God, and without hope in the world ... The smoke of a thousand villages ... The smoke of a thousand villages." Suid-Afrikaanse pionier, Robert Moffat. “I beg to direct your attention to Africa… Will you carry out the work which Ihave begun? I leave it with you!” David Livingstone “Lord, the task is impossible for me but not for thee. Lead the way and I will follow.” Mary Slessor (My gunsteling sendeling van die 18de eeu) Saterdag was ons na Norman Carr lodge by ‘n pragtige afgeleë strand, ons het die voorreg gehad om op ‘n boot vêr die meer in te gaan, te snorkel en te sien hoe hulle visarende voer wat reg voor ons berbygevlieg het, dit was asemrowend. Sondagoggend was ons kerkdiens in Mangochi, ‘n area waar die grootste persentasie van die bevolking Moslems is. Nadat ons vir baie van die gemmeentelede Bybels kon gee het ons die Evangelie gebring in ‘n toneel waar ‘n “verlore sondaar” geblinddoek by ‘n “afgrond” afloop en die gemeentelede hom moes omkeer en sy oë open deur hom van Christus se kruisdood te vertel. Nadat hulle dit gedoen het en ons almal werklik onder die indruk was van God se liefde, het ‘n ou oom spontaan in ChiChewa begin sing van God se groot liefde. Dit was ‘n mooi oomblik en ons het afgesluit met Romeine 8: “Niks kan ons van God’s liefde skei wat ewig vas in Christus bly.” ![]() Gebedsversoeke: Bid asseblief saam met ons dat God nog baie baie meer Chichewa Bybels na Malawi sal stuur sodat almal wat honger is vir sy Woord ‘n Bybel sal kry en die Evangelie verder sal deel. Bid asseblief dat die pastore, die kerkleiers en die studente in opleiding God se Woord skrifgetrou en met ywer en liefde vir hulle naaste sal bring. Bid asseblief dat die moslem stamme in die Suide van Malawi tot bekering sal kom. Ons dank en eer God dat ons sy wonderlike skepping so saam kon geniet en bewonder, ons het soveel geleer en het teruggekom met meer geestelike seëninge as wat ons kon bring. Mag U Koninkryk kom, by ons huise en kringe, in Malawi en tot aan die uiterstes van die aarde. Amen, ja kom gou HERE Jesus! Openbaring 22 As jy belangstel in ‘n kort maar intensiewe kurus om meer te leer oor sending, hoe om te Evangeliseer en hoe om met ‘n Bybelse wêrelduitkyk jou geloof op universiteit, by die werk ensovoorts uit te leef is Frontline Fellowship se “Biblical Worldview Summit” (7 dae) of “Great Commission Course” (3 weke) die regte ding vir jou. Op die kursus doen en leer mens meer as wat jy sou kon droom terwyl jy saam met medegelowiges pret het en baie groei in die geloof. Volg die link vir meer inligting: https://www.frontlinemissionsa.org/events-blog/great-commission-course-2018 Alieske van’t Foort
1 Comment
Liesl Walden
30/6/2020 20:28:47
Hi Alieska,
Reply
Leave a Reply. |