![]() Frontline Fellowship tot Namibiё Augustus tot Oktober was ek deel van ‘n groep van 5 op ‘n sendingreis na Namibiё, Zambiё, Tanzaniё, Malawi, Zimbabwe en Swaziland. Ons doel was om kerkleier by konferensies te leer hoe om die Bybel in waarheid en konteks te preek en toe te pas. Ook om kinderbediening te doen en Bybels en love boxes uit te deel. Hiermee dan ook ‘n bedanking aan die gemeente vir almal wat vir ons gebid het. Die grenskruising na Nambiё was vreemd genoeg die moeilikste van al die grense om te kruis. Nadat ons vir die ongeskikte grensbeampte gesing en ‘n gratis t-hemp gegee het, is ons deurgelaat. In Windhoek het ons by Kanaal 7 ‘n boodskap gedeel. Hulle is ‘n Christelike radiostasie wat uitsaai in al Namibiё se verskillende moedertale met die leuse: “Hom verkondig ons…” Kolossense 1:28.. So bereik hulle baie mense in Namibiё wat op geen ander manier met die Evangelie bereik word nie. Hier het ons sendingvoertuig bietjie probleme gegee en ons kon sien hoe God voorsien toe ons gasheer aangebied het om vir ‘n diens en enige ander nodige herstelwerk aan die kar te betaal. Voor ons vertrek het na die volgende bestemming het hulle vir ons ‘n pot heerlike heuning van hulle eie bye gegee. ![]() Lasarus word opgewek In die noorde van Namibiё het ons span in ‘n klein dorpie by El Shaddai Skool die kinders die verhaal van Lasarus laat opvoer en vertel hoe Christus ons ook so uit die dood opwek. Die onderwysers het vertel dat die kinders hier ongelukkig baie geslote is vir die Evangelie ookal het meeste van hulle se ouers in Christelike boere-gemeenskappe groot geword. Die San ‘n Boer het ons meer vertel van die San stam, hulle is ‘n mense groep wat baie ge-idilliseer is maar eintlik swaarkry. Hulle is ‘n nomadiese mensegoep wat verdryf word van hulle blyplekke deur beesboerderye, myne en natuurbewaarders. Verder is daar byna niemand wat na hierdie “afgestote” nasie uitreik met die Evangelie nie omdat hulle nomadiese leefstyl en animistiese geloof ‘n baie spesifieke soort uitreik benodig. Ons kan bid dat God mense sal roep en stuur wat gewillig is om sending onder die San mense te doen. ![]() Oppad in Zambiё Na ‘n besoek aan die ouetehuis en ‘n fietsrydag saam met ‘n groep minderbevoorregte kiners het ons deur die grens by Katima Mulilo gekruis na Zambiё. Onderweg na ons gashere, het ons die verkeerde pad gevat, ‘n rowwe een.. Na ‘n tyd op die “pad” het ons besef dat die sleepwa gebreek het en een van die deure oop is. Ons het ‘n redelike hoeveelheid goed verloor, die belangrikste daarvan was ‘n gereedskapskis waarin alles was wat ons nodig gehad het vir ingeval iets aan die kar of sleepwa breek. Daar staan ons toe, op ‘n verlate grondpad in Zambiё se hitte. Ver vanaf beskawing of sein met stukkende sleepwa en geen idee hoe lank terug ons goed uitgeval het nie. Na ‘n rukkie kom daar ‘n man op ‘n klein rooi motorfietsie verbygery, ons groepleier spring toe agterop en ry saam met hom in die rigting van waar ons kom om die gereedskapskis en enige iets anders wat moontlik verlore is op te spoor. Na so 20 minute was hulle terug, sonder sukses. Ons het die rooi “taxi” betaal en teen die tyd was ons redelik stowwerig, natgesweet, uitgeput en verslae oor alles wat ons verloor het. Tog kon ons se dat “God alles voorsien vir die werk Hy wil he ons vir Hom moet doen.”, dit was bemoedigend en saam kon ons die sleepwa met toue aanmekaar bind en die regte pad terugvind. ![]() Wat is die kerk? Na twee dae se reis bereik ons ons gashere. Hier het ons ‘n 4 dag konferensie met die tema “What is the church?” bygewoon. ‘n Klomp kerke van oor hierdie area het bymekaargekom. Dit was duidelik dat daar baie misverstande was oor wat die kerk is en ons span het soveel as moontlik gefokus daarop om te leer wat die kerk as liggaam van Christus werklik is. Ookal het ons oor sake verskil was dit bemoedigend om te sien hoe gewillig die mense is om meer te leer van God se Woord. Talita en ek het elke dag ‘n groot groep kinders gekry vir wie ons Bybel lesse kon gee. Met die hulp van ‘n vertaler (meeste mense hier verstaan net Mbemba) het ons hulle deur die verhale in Genesis gevat. Elke verhaal het ons soos ‘n storie vertel terwyl hulle dit in ‘n toneel opgevoer het. Dan het ons verduidelik watse impak dit op ons lewe het. ![]() Tanzaniё Grense Ons was effens bekommerd oor die grenskruising na Tanzaniё. Die vorige jaar het ‘n sendeling van Frontline baie moeikikheid gekry by hierdie grens en moes hy die hele sleepwa uitpak. Laat aand het ons by die grenspos gekom en God het dit so beskik dat ons voertuig kon deurkom sonder dat ‘n enkele grensbeampte na ons voertuig gekyk het! Naby die grenspos moes al vyf van ons in die kar slaap. Die keuse tussen oop vensters, vars lug en muskiete of bedruktheid sonder muskiete was moeilik. ![]() Vrygewigheid, Gasvryheid & Kinderbediening In ‘n afgelee dorpie tussen pragtige bergreekse in Tanzaniё was ons hartlik ontvang deur ons gashere. “Karibo! Karibo!” (you’re most welcome) was die almal se groetwoorde aan ons. Hulle het so min aardse besitting, nogtans het hulle uit hulle pad gegaan om vir ons welkom te laat voel, heerlike maaltye te kook en gemaklik te maak. Elke dag het hulle spesiaal vir ons botteltjies gaskoeldrank by hulle mark gaan koop en dit was vir hulle ‘n hoogtepunt wanneer Abrie die botteljies met ‘n harde “POP” geluid oopgemaak het sodat die proppies tot teen die dak skiet. Dit was so vernederend dat hierdie mense, wat nie eens ‘n bad, toilet of vensters het nie, maar hoofsaaklik leef vanaf die piesang en Kakao plantasies rondom hulle, die bietjie wat hulle het so vrygewig met ons gedeel het. Saam met ons vertalers het ons by die dorpskool lesse aangebied, in die laerskool het ons van klas tot klas gegaan en die skeppingsverhaal tot en met Noag laat opvoer. By die hoёrskool gaan maak ons toe ‘n afspraak om ‘n les te gee. Die skoolhoof het ons gevra of ons boodskap net vir Christene is waarop my vertaler se antwoord was: “No, the Gospel (goeie nuus) is for everyone to hear.” Die volgende middag stap ons deur die mooi woud om ‘n les aan te bied. Net voor ons begin se die skoolhoof ons moet die boodskap asseblief neutraal hou en sorg dat ons nie vir enigeiemand aanstoot gee nie aangesien daar mense van baie verskillende gelowe, veral moslems, aanwesig is. Dis toe wat ek begin stress. Hoe verkondig jy dat Jesus Christus, die Seun van God is wat ons verlos van ons sondes en dat ons sonder Hom vir ewig hel toe gaan, sonder om enige iemand aanstoot te gee? Ons het begin met Vader Abraham wat ook vir die Moslems ‘n belangrike man was en direk van daar af gespring na Josef as die eerste Koning wat kom na God belowe het dat daar Konings uit sy nageslag sal kom. “Ek sal jou tot nasies maak, en konings sal uit jou voortkom. En Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag ná jou in hulle geslagte as ’n ewige verbond, om vir jou ’n God te wees en vir jou nageslag ná jou.” Genesis 17:6-7. Die kinders was mal daaroor om die verhaal van Josef op te voer. Ons sluit toe af met die les; soos wat God Josef se swaarkry ten goede laat meewerk het, het Hy ook Christus se swaarkry aan die Kruis ten goede laat meewerk vir almal wat hulle sonde bely en in Hom glo. Teen die tyd was ek so bekommerd dat ons die mense aanstoot gee, maar ons was nie daar tot eer van mense nie maar tot eer van God en kon afsluit met die woorde : “we either believe that Jesus Christ died for our sins, live for Him and go to Heaven or we don’t believe in Him and go to hell.” Nadat ons afgesluit het kom daar toe ‘n groep moslem meisies na ons toe. Ek het verwag hulle gaan kom argumenteer en se dat ons nie kan se Jesus is die Seun van God nie. Ons het geweet dat God ons die regte woorde gegee het toe hulle eenvoudig se: “Thank you so much for your message, we’ve learned so much.” Dr. Hammond, die direkteur van Frontline Fellowship, se gereeld “Die Evangelie gee aanstoot, dit wys hoe sondig en totaal verlore ons in onsself is. Ons moet net versigtig wees dat ons, as boodskappers, nederig bly en nie aanstoot gee nie.” ![]() Malawi Hier het ons die kans gehad om langs die pragtige meer van Malawi te stap en as groep saam onder die sterrehemel te bid. “As ek U hemel aanskou, die werk van U vingers, die maan en die sterre wat U toeberei het… o Here, onse Here, hoe heerlik is U Naam op die ganse aarde!” Psalm 8:4 & 10 ![]() “Back to the Bible” Vir die Sondagoggend diens was ons in ‘n kerk van wanorde. Onderwyl die dominee gepreek het, het die luidsprekers heeltyd probleme gegee, hy ‘beveel’ die luidsprekers toe om the werk “in the Name of Jesus!”, ongelukkig het hulle nie gehoorsaam nie. Na die preek bid almal toe in “tale” en dit het gevoel soos ‘n kompetisie. Ek het gedink aan 1 Korintiers 14:33 “God is tog nie 'n God van wanorde nie, maar van orde en vrede, soos in al die gemeentes van die heiliges”. Ons het besef die mense het nie ‘n goeie begrip van die Woord nie. Gelukkig het ons toe die kans gekry om onsself voor te stel en Daniel het kortliks verduidelik dat hy kan sien hulle bedoel dit opreg en wil werklik God eer, maar dat om in tale te praat en ‘n geraas te maak nie noodwendig God dien nie. Hy het hulle aangemoedig om seker te maak dat alles wat hulle doen tot opbouing van die kerk is vanuit 1 Korinthiers 14:26 “Wanneer julle saamkom, dan het elkeen van julle ‘n psalm of ‘n lering of ‘n taal of ‘n openbaring of ‘n uitlegging – laat alles tot stigting geskied.” Die aanddiens het ons groepleier gepreek. Die maal was die luisprekers buite en in werkende toestand. Die dominee het vooraf aangekondig dat hy die luidsprekers ekstra hard gaan aansit sodat almal rondom die kerk ook kan hoor. Hy het hulle aangemoedig om ‘n keuse te maak om na God te draai en by die kerk aan te sluit. Die res van hierdie konferensie het ons elke dag daarop gefokus om die kerkleiers te leer om die Bybel in konteks te lees en reg toe te pas. ![]() Zambiё Terug in Zambiё het ons ‘n konferensie gehou by ‘n kerk in die bosveld naby ‘n klein dorpie. Soos wat ons uit die bakkie klim het die dominee ons hartlik verwelkom met ‘n “welcome home!”. Ons was gelei na ‘n afdak om bietjie te rus. Soos wat ons ingestap het, het ‘n vreemde toneel voor ons afgespeel. ‘n Jong vrou was besig om ‘n groep mans rondom haar met vuiste te slaan terwyl hulle vir haar se “leave her!” en “go out!”. Toe het sy flougeval, die mans het ‘n laken oor haar gegooi, en haar uitgedra. Ek het gedink dit was ‘n toneelspel om te probeer om ons te beindruk. Na ‘n koppie ‘Tobwa’ (gefermenteerde mieliemeel koeldrank) het die dominee ons rondegelei en sy plantasies en baksteenput gewys. Dit was wonderlik om alles wat hulle op die kerk se plot groei te sien, suikerriet, piesangs, tamaties, papayas en baie groentesoorte. By die baksteenput was daar letterlik duisende bakstene wat die kerk se lidmate maak om ‘n kerkgebou en ablusieblokke te bou. Die dominee het ons hulle proses gewys om ‘n baksteen te maak. Dis harde tydsame werk, hy spandeer elke werskdag tyd daaraan en op Sondae preek hy, verder praat hy weekliks op verskeie radiostasies en televisieprogramme. Hier het ons vir die mense Bybels in hulle eie tale gegee. Een vrou was onbeskryflik dankbaar, sy het vertel dat sy al vir drie jaar vir ‘n Bybel gebid het. Selfs Rooms-Katolieke en Sewendedagse adventiste vanuit die dorp het hier die konferensie bygewoon om te leer hoe om in konteks vanuit die Bybel te preek. Almal se terugvoer was goed en die sewendagse adventiste het selfs gese dat ons weer moet kom. Later het die dominee se vrou vir my vertel dat die mense van die omgewing nie ‘n goeie werksetiek het nie en dat luiheid die rede is waarom baie van hulle so arm is. Sy het gese “me and my husband are trying to set an example of a Christian work ethic,” en hulle doen dit werklik goed. Talita en ek het die vroue beter leer ken soos wat ons saam kosgemaak en skottelgoed gewas het. Dit was hartseer om te hoor hoe baie van hulle jong enkel ma’s is. Hulle het vertel dat geestesaanbidding en satanisme ‘n probleem in die omgewing is. Hulle het vertel die vrou wat ons die eerste dag sien flouval het, het onlangs vanuit satanisme gekom en dat hulle besig is om te probeer om haar na God toe te lei. ![]() Die ewige lewe in Christus Jesus Die kinders het vir ons hulle speletjies geleer en ons het vir hulle bybelverhale en liedjies geleer. Een van hierdie liedjies was “the Marching Song” met die woorde van Romeine 6:23 “Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.” Hulle het met oorgawe saamgesing en gemarsjeer, maar toe ons hulle vra of hulle weet wat die woorde beteken was hulle onseker. Ons het hulle gevra hoe ons gered kan word van hierdie dood, wat die straf is op die sonde. Hulle antwoorde was in die lyn van: “deur meer gehoorsaam te wees, na God se bevele te luister en goed te leef.” Hulle het erken dat hulle elkeen al die 10 gebooie gebreek het maar het volgehou dat hulle “goeie kinders” is. Ons het aangegaan om te verduidelik dat ons nie gered kan word deur enigeiets wat ons doen nie maar alklaar dood is in ons sonde want “Die loon van die sonde is die dood…”. Dan volg die goeie nuus: “…maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.” Dit was wonderlik om te sien dat hulle verstaan toe ons hulle weer gevra het hoe hulle gered kan word en hulle antwoorde was “deur Jesus Christus.” ![]() Zimbabwe Voor die sending het ons elke oggend ter voorbereiding vir verskillende plekke en mense gebid. Een van hierdie oggende het ons groepleier vir ons ‘n paar artikels met van die pensioenarisse in Zimbabwe se verhale gegee sodat ons hulle omstandighede beter kan verstaan. Een van die gesinne vir wie ons gebid het was die Wheelers. Hulle het vertel hoe hulle klein en sukkellend begin het, na jare se harde werk het hulle plaas al hoe meer vrug gelewer en hulle het tonne sitrus en mango’s uitgevoer. Toe is hulle plaas met geweld afgevat, hulle was vir ‘n week aangehou as gevangenes in hulle huis. Hulle het alles verloor, hulle seun kon nie eers meer skool klaarmaak nie en hulle het afhanklik van organisasies se ondersteuning in die ouetehuis beland. In Zimbabwe het ons toe vir vier dae die ouetehuise gaan besoek. Toe ons gasvrou my vertel het dat die mevrou Wheeler, waarvoor ons vooraf gebid het, ‘n besoek baie sal waardeer, het ek geweet God het ons gebede verhoor. Sy het vir my hulle storie vertel, om dit direk van haar te hoor was baie meer intens as toe ons dit gelees het. Haar man is intussen oorlede en ek kon sien dat sy na al die jare nogsteeds swaarkry oor wat gebeur het. Tussen al haar rimpels was daar ‘n half hopelose, half bitter trek om haar mond. Tog het sy met ‘n effense glimlag vertel van haar blomme en hoe baie sy van tuinmaak hou. Dit was bemoedigend om saam Bybel te lees: “Kyk, al wil Hy my ombring – ek hoop op Hom: ek sal tog my wandel voor sy aangesig bepleit.” Job 13:15. Ons het gebid dat ons krag sal he om op God te vertrou terwyl ons op sy Koningkryk wag. Dit was asof ek die dame wat deur soveel hartseer is al vir baie lank ken. Voor ons groet het sy gese sy weet God het dit so gelei dat ek haar kon besoek. “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” Mattheus 6:33 ‘n Ander tannie wat ek besoek het het my vertel dat haar kinders na Australie geemigreer het en haar alleen in die ouetehuis agtergelos het, sy het geen manier om hulle te kontak nie en weet nie waar in Australie hulle bly nie. In die kort tydjie wat ons in Zimbabwe was het ons gou agtergekom dat daar baie van hierdie gevalle is. Amper al die pensioenarisse het al hulle spaargeld verloor en is totaal afhanklik van een of ander kerk of organisasie. Aan die begin van die maand het ons gasvrou in Zimbabwe vir my ‘n boodskap gestuur waarin sy vra dat ons asseblief vir hulle bid; die hospitale kry nie meer die toerusting en medikasie om mense te behandel nie so die dokters staak en baie noodeenhede maak toe. Dit is veral nou ‘n probleem met al die geweld en onluste waarin baie mense gewond word. Deur donasies kon ons 40 love boxes, gevul met kos, medisyne en ander benodighede, vir die behoeftiges in Zimbabwe gee. Maar die nood daar is nog baie groter, ookal kan ons nie almal gee of gaan nie, kan ons wel almal vir die mense in Zimbabwe bid. Alieske van’t Foort
Frontline Fellowship P.O. Box 74 Newlands 7725 Cape Town South Africa Tel: 021-689-4480 Fax: 086-494-8070 Email: mission@frontline.org.za Website: www.frontlinemissionsa.org
0 Comments
Leave a Reply. |