![]() Die Agste Gebod gaan lynreg in teen die gees van diefstal in ons dag. Nie een van ons is heeltemal vry te spreek van een-of-ander vorm van diefstal nie. Onlangse navorsing dui aan dat drie uit elke tien aspirant werknemers van hulle vorige werkgewer gesteel het! Navorsing wys verder dat:
22% van alle werkers voel dat dit “soms geregverdig is” om van hulle firma te steel 33% w6erknemers het erken dat hulle valslik voorgegee het om siek te wees en tog betaling aanvaar het vir die dae wat hulle van diens af was .Een derde van alle kollege-studente het erken dat hulle sou kul in ‘n eksamen, indien hulle seker kon wees dat hulle nie uitgevang sou word nie Een uit elke sewe gegradueerdes bly in gebreke om hulle universiteitslenings te vereffen. ‘n Opname van ‘n aantal groot organisasies het aan die lig gebring dat die gemiddelde werknemer ses weke per jaar van sy werkgewer steel, deur gereeld laat te kom, vroeg te loop, met uitgerekte etenstye, deur ekstra tyd te neem vir koffie- en tee verposings, en deur sy plig te versuim. Dit alles beloop miljarde wat elke jaar vir die ekonomie verlore gaan. Wydverspreide Diefstal In ‘n onlangse lukraak-opname van 500 produkte is bevind dat ongeveer 50% daarvan mínder items bevat het, as wat op die etiket aangedui is. Byvoorbeeld, ‘n houer met 100 hoofpyn tablette het in werklikheid slegs 60 bevat! Diefstal oor die Hele Spektrum. Ongeveer een derde van alle besighede wat jaarliks te gronde gaan, is as gevolg van diefstal deur werknemers. Wanneer besighede sluit, verloor werknemers hulle werk en ly hulle gesinne, en dit omdat die helfte van alle werknemers hulle aan diefstal skuldig maak. Volgens kleinhandelaars in Suid Afrika verloor hulle miljarde rand elke jaar deur winkeldiefstal, en selfs nog meer a.g.v. “inkrimping” – of te wel diefstal deur werknemers. In 2007 het die SAPD 395 296 sake van winkeldiefstal en ‘kommersiële misdade’ geregistreer. 14 201 motorkapings, 1 245 vragmotorkapings en 77 984 publieke rooftogte in die strate, is in ‘n enkele jaar aangemeld Hoekom Steel so baie Mense? Wat het die pandemie van diefstal veroorsaak? Daar sal mense wees wat sê dat armoede diefstal veroorsaak, maar sommige van die wêreld se rykes het hulle al aan diefstal skuldig gemaak en baie bedorwe kinders uit welvarende gesinne raak by winkeldiefstal betrokke. In teenstelling daarmee is daar miljoene arm mense wat nooit steel nie. Selfs gedurende die Groot Depressie, toe miljoene gesinne brandarm was, het Godvresende mense hulle nie aan diefstal skuldig gemaak nie. In Prediker 8:11 gee die Bybel ons ‘n duidelike antwoord op hierdie vraag: “Omdat die verkeerde daad nie meteens gestraf word nie, hou mense eenvoudig aan om verkeerd te doen.” In Suid Afrika het die toestand só versleg, dat ons spesiale veldtogte en TV-reekse het om die bevolking die basiese beginsels te leer. Sommige besighede het selfs prominente plakkate aangebring, waarop staan: “Winkeldiefstal is ‘n misdaad!” ‘n Mens sou dink dat dit tog vanselfsprekend is, maar te veel mense sien eenvoudig niks verkeerd met blatante diefstal nie. Valsheid en Bedrog Diefstal is deurtrek van hoogmoed, bedrog en valsheid. Diewe, kul-kunstenaars en bedrieërs is skynheilig. Hulle wil nie hê iets moet van húlle of hulle kinders gesteel word nie. En tog is hulle arrogant genoeg om die mees basiese wette van die samelewing op te skort en hulleself daarvan te vrywaar. Hulle verwag dat hulle eie gerief en besittings beskerm moet word, maar hulle belieg, besteel en kul ander. ‘N Ongeërgde Misdaad Diefstal is ‘n ongevoellige misdaad, omdat die dief oënskynlik vere voel oor die uitwerking wat sy misdaad het op die een vir wie hy benadeel. Die uitbuiter, wat te veel huurgeld vra, is oënskynlik min gepla oor die swaarkry wat dit vir sy huurder veroorsaak. Die mens wat defektiewe produkte verkoop, gee nie om hoeveel probleme sy bedrog die koper kan besorg nie. Verskonings Daar is ‘n menigte verbeeldingryke verskonings waarmee mense hulle diefstal probeer regverdig. “Ek het hard gewerk, en ek is nie behoorlik vir my pogings vergoed nie.” “Ek het dit méér nodig, as hulle.” “Ek kan nie help nie.” “Hulle waardeer dit nie, ek sal wel.” “Ek is jaloers op hulle en ek dink ek verdien wat hulle het, selfs meer as wat húlle dit verdien.” Hierop reageer die Here met net vyf woorde: “Jy mag nie steel nie.” Eks. 20:15 Die Here het vir almal van ons die grense bepaal. “Dial-A-Porn” Toe Telkom begin het met 087Dial-a-Porn, het Ou Mutual bekend gemaak dat hulle uitgawes aan oproepe in een maand met meer as R5 miljoen gestyg het! Op daardie tydstip het hulle ongeveer 5 000 werknemers by Ou Mutual se hoofkantoor gehad. As ons aanvaar dat ongeveer die helfte van Ou Mutual se werknemers die werk se telefone gebruik het om by 087Dial-a-Porn uit te kom, beteken dit dat die gemiddelde werknemer R2000-00 se ongemagtigde oproepe in slegs een maand gemaak het. Hulle het sowel die 7de as die 8ste Gebod oortree. Diefstal deur die Regering Regerings-korrupsie is ook diefstal. As God se Wet bepaal: “Jy mag nie steel nie...jy mag nie begeer nie...” word privaatbesit daardeur beveilig. Sosialisme is gewettigde diefstal en institusionele afguns. Enige belasting van 10% of meer, word deur die Bybel as onderdrukkend beskryf. (1 Sam. 8:10-18). Enige belasting op eiendom, of erflatings, is volstrek verbode. (1 Kon. 21:3). Instellings en individue wat voltyds in diens van die Here is, mag nie belas word nie. (Esra 7:23-24). Diegene wat die Here voltyds dien, word onderhou deur die vrywillige gawes van mense wat rééds belasting betaal het. Om geld wat aan die Here se diens toegewy is, te belas, is om van God te steel. Enige ongelyke of progressiewe belasting-stelsel word uitdruklik in die Skrif verbied. (Eks. 30:14-15; Lev. 19:15). Diefstal deur Inflasie Bybelse ekonomiese beginsels verbied bedrieglike weegskale (ongesteunde koerse) en maatstawwe (inflasie). Lees Lev. 19:35-36; Spr. 11:1; 20:10; Amos 8:5-7; Miga 6:11-12. Inflasie knou pensioene en spaargeld. Dit is verskuilde belasting. Baie mense oortree die Agste Gebod deur vir politieke partye te stem, wat deur buitensporige belastings en sosialistiese beleid diefstal pleeg. Regerings wat belastings verhoog, sonder om gelykwaardige dienste te lewer, is ook besig om te steel. Restitusie In gevalle van diefstal, brandstigting en kwaadwillige beskadiging van eiendom, vereis die Bybel restitusie. Dit beteken om ‘n ding aan sy wettige eienaar terug te besorg. Dit is om te vergoed vir beserings of skade aan eiendom. Die Bybel bepaal dat die slagoffer van misdaad die enigste begunstigde van restitusie is. Restitusie word ook vereis vir strafbare nalatigheid. “As die gesteelde goed lewend in sy besit gevind word, moet hy dit dubbel vergoed, of dit nou beeste, donkies of skape is. ‘n Dief moet ten volle vir sy diefstal vergoed. As hy niks besit nie, moet hy vir die waarde van die gesteelde goed verkoop word. Wanneer ‘n man sy vee laat wei en hulle nie oppas waar hulle wei nie, en hulle loop en wei in die land of wingerd van ‘n ander, moet hy met die opbrengs van sy beste land of wingerd daarvoor vergoed. Wanneer ‘n man onkruid aan die brand steek, en die vuur vang die rye gerwe of die ongesnyde graan of die land van ‘n ander, moet die man wat die brand begin het, ten volle daarvoor vergoed.” Eks. 22:3-6 God se Wet is ondubbelsinnig: Die krimineel is aanspreeklik en hy is verantwoordelik om vir sy misdaad te betaal. Hy moet werk, sodat hy geldelik, of met goedere kan vergoed vir wat hy gesteel of beskadig of vernietig het. Saggeus is ‘n goeie Bybelse voorbeeld van iemand wat restitusie gedoen het. “Maar Saggeus het opgestaan en vir die Here gesê: ‘Here, ek gaan die helfte van my goed vir die armes gee, en waar ek iets van iemand afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug.’ Daarop sê Jesus: ‘Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom; ook hierdie man is ‘n kind van Abraham’.” Luk. 19:8-9 Was Jy al Skuldig? Het jy al ooit iets gesteel? Het jy al ooit iets gevat wat nie aan jou behoort nie? Het jy goed geleen wat jy nie terug gegee het nie - vir maande of jare? Het jy die werk se telefoon sonder toestemming vir persoonlike en privaat oproepe gebruik? Indien wel, is dit diefstal! Ek is aan diefstal skuldig as ek sonder goedkeuring iemand anders se telefoon gebruik en sy rekening opjaag. Dis soos om geld uit sy beursie te vat. Dis ook een van die maklikste maniere om te steel. Herstel deur Berou Sondevergifnis is nie ‘n plaasvervanging vir regstelling nie, maar eerder die onderbou daarvan. Vergifnis van sonde is nie ‘n herdefiniëring daarvan nie. Ons word vergewe – bevry van die skuld en straf van sonde – sodat ons kan doen wat reg is. Vergifnis is nie ‘n dekmantel vir sonde nie. dit is die oplossing vir sonde. Vergifnis is nie die oordrag van eiendomsreg aan die dief nie. Toe God beveel het: “Jy mag nie steel nie...jy mag nie begeer nie...” het Hy privaatbesit van eiendom bevestig en geseën. ‘n Mens mag nie vernietig wat God op enige terrein verorden het nie – nie die huwelik as instelling, of die besit van privaat eiendom nie. Diefstal is nie net ‘n oortreding teen die slagoffer nie, dis ‘n sonde teen God. Dis ‘n verbreking van Sy Wet. Berou oor sonde en restitusie is onafskeidbaar. As sonde skade aan, of diefstal van die eiendom van ander behels, is restitusie noodsaaklik, vóór die vreugde van vergifnis belewe kan word. Genade maak ware berou moontlik, maar dit sluit nie die noodsaaklikheid van restitusie uit nie. Ons Here en Verlosser, Jesus Christus, het geregtigheid lief. Diefstal is ongeregtigheid. Ons Here Jesus Christus het nie aan die kruis gesterf sodat ons ander mense se eiendom kan steel en daarmee wegkom nie. Moenie rus voordat jy nie terugbesorg het wat jy geleen het nie. Vergoed vir wat jy beskadig of gebreek het, en betaal daardie ongemagtigde telefoonoproepe. Vereffen jou agterstallige huurgeld. Dit is die restitusie wat die Bybel van ons eis. ‘N Navolgenswaardige Voorbeeld Baie van u ken seker die getuienis van George Oesche. Hy was in die diamantmyne werksaam en het oor die jare baie van dié edelgesteentes gesteel. Hy het ‘n baie mooi huis, en ‘n gerieflike lewensstyl gehad. Maar toe kom hy tot bekering, en ontdek die belang van restitusie. Toe gaan bely hy sy wandade by die owerhede. Om ons Skuld Terug te Betaal Al was hy nooit uitgevang nie, en al was hy nie meer in die myne werksaam nie, het hy toe begin met die lang en pynlike proses om alles wat hy gesteel het, terug te betaal. Dit was ‘n groot opoffering. Maar die Here het hom ryklik geseën. “Dwase spot oor skuldoffers. Dié wat opreg lewe, ervaar versoening.” Spr. 14:9 ‘N Kragtige Getuienis Ek weet van ‘n ander broeder, Lawrence Temfwe, wat die hoof is van die Prison Fellowship in Zambië. Terwyl hy in Standard Bank ‘n klerk was, het hy baie geld gesteel. Hy is gevang en in die tronk gegooi, waar hy Christus aangeneem het. Nadat hy sy termyn uitgedien het, het hy gewerk om wat hy van Standard Bank gesteel het, terug te betaal. Daar was geen wetlike verpligting op hom nie – hy was immers in die tronk, maar as Christen wou hy restitusie doen. Stel jou die verbasing voor, toe hy alles terugbetaal het wat hy van die bank vervreem het! Wat ‘n kragtige getuienis. “As...bose mense...terugbetaal wat hulle gesteel het, lewe volgens die wette wat lewe bring en nie doen wat verkeerd is nie...sal...hulle sondes...nie teen hulle gehou word nie. Hulle doen wat goed en reg is, en hulle sal verseker lewe.” Ese. 33:15-16 Diefstal by die Werk Daar is baie mense wat van hulle werkgewers steel, deur die ooreenkoms te verbreek om vir sekere ure te werk teen ‘n bepaalde salaris. Hulle kom laat, gaan vroeg huis-toe en werk net wanneer daar toesig is. Hulle hou nie by die 40 uur, óf die hoeveelheid werk wat in ‘n week verrig moet word nie. Maar, as hulle aan die einde van die maand minder betaal sou word as dit waarop ooreen gekom is, sal hulle hoogs ontevrede wees. Is dit nie ook diefstal nie? Jy verwag 100% vergoeding - vir 40% werkverrigting! Laksheid is ook ‘n vorm van diefstal. Ons besteel mense, as ons minder doen as dit waaroor ons ooreen gekom het. Morsjorse en Luiheid Rommelstrooi is ook ‘n oortreding van die 8ste Gebod. Ons steel ander mense se tyd, omdat hulle moet skoonmaak waar ons gemors het. Ons bemors ander mense se eiendom deur ons ongeërgheid. As ons aan ander doen, soos ons wil hê hulle moet aan ons doen, dan moet ons nie morsjorse wees nie. Die 8ste Gebod vereis van ons om ander se eiendom te respekteer. Die Vele Gesigte van Diefstal Regerings-korrupsie is ook diefstal, en so ook inflasie, buitensporige belastings, in gebreke bly om lenings te betaal, onbetaalde rekeninge, verneuk met toetse, leeglê by die werk, kul met inkomstebelasting, om siekverlof te neem as jy nie siek is nie, onwettige aflaai of kopiëring van sagteware, en om God van die tiende te beroof. Om van God te Steel Die profeet Maleagie het geskryf dat mense wat nie hulle volle tiende en offergawes aan die Here gee nie, Hom direk besteel.. “Sal ‘n mens God ooit besteel? Tog het julle My bedrieg...Julle het die tiendes en offerandes gesteel!...Bring al die tiendes na die stoorkamers sodat daar genoeg kos in My tempel kan wees. Toets My hierin of Ek nie vir julle die vensters van die hemel sal oopmaak nie. Ek sal voorspoed op julle laat reën wat meer as genoeg vir julle sal wees!” Mal. 3:8-10 Diefstal is Kortsigtig Diefstal kan die dief slegs vir ‘n kort tydjie bevoordeel. Ons Skepper en Ewige Regter sien alles wat ons doen. Gevolglik sal niemand met diefstal wegkom nie. God se straf oor onboetvaardige diewe sal ‘n ewigheid duur. Die Berouvolle Dief Deur die genade van God was die dief wat langs Jesus gekruisig is, een van die eerstes wat die vrug van Sy verlossing deelagtig geword het,. Hy het in berou na Jesus gedraai en gevra: “Jesus, onthou my asseblief wanneer U in U koninkryk kom.” Ons Here het geantwoord: “Ek verseker jou, vandag nog sal jy saam met My in die paradys wees.” Luk. 23:42-43 Die Here se Woord kom vandag na elkeen van ons: “Die dief moet ophou steel en eerder hard werk. Hy moet sy eie hande vir eerlike werk gebruik, sodat hy iets kan hê om met mense in nood te deel.” Efe. 4:28 Aankoop Die Tien Gebooie Hier DR. PETER HAMMOND is ‘n pionier van sendingwerk in Mosambiek, Angola en Sudan. Hy is die outeur van The Ten Commandments – God’s Perfect Law of Liberty. Tel: 021 689 4480
0 Comments
Leave a Reply. |
Meer Artikels
All
Archives
October 2020
|