![]() Die eerste vier gebooie gaan oor ons verpligting teenoor God, terwyl die laaste ses te make het met ons verpligtinge teenoor mense. In antwoord op die vraag wat die grootste gebod is, het ons Here Jesus Christus die twee tafels van die Wet soos volg opgesom,: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.” Mat. 22:36-40 Behandel Jou Ouers Goed
Die Bybel stel dit duidelik dat ons sal oes wat ons saai, en dat ons gemeet sal word met die maat waarmee ons ander meet. Die manier waarop ons ons ouers en meerderes behandel (ongeag daarvan of jy ‘n kind, tiener of volwassene is) skep ‘n patroon van hoe ons kinders óns gaan behandel. In Grimm se Feeverhale word die storie vertel van ‘n ou man wie se oë voortdurend geflikker, en wie se hande onbeheerbaar gebewe het. Omdat hy geen blyplek gehad het nie, het hy by sy seun ingetrek. Sy skoondogter kon dit nie verdra dat hy aan tafel aanhoudend die eetgerei laat ratel, en drankies verspil nie. In haar woede en ergernis het sy daarop aangedring dat hy op sy eie in die hoekie moet eet, nie by die familie nie. Om te Maai wat Jy Saai Hy het op sy eie begin eet, terwyl hy soms geloer het na die tafel waar sy familie sit. Tot op ‘n dag wat sy hande só gebewe het, dat hy sy bord op die vloer laat val, en sy kos het op die mat beland het. Die skoondogter het geskree: “As jy soos ‘n vark wil eet, sal ons jou soos ‘n vark voer!” Sy het ‘n hout trog op die grond neergesit en hom aangesê om soos ‘n dier uit die trog te eet. Hy het toe ook maar!. ‘n Paar dae later kom die vrou se jong seun opgewonde by die huis. Hy wou vir haar wys wat hy gemaak het: “Kyk mamma, ek het ‘n trog gemaak, om jou en pappa uit te voer wanneer ek groot is.” Verwaarloos die Oues van Dae Die vrou het in trane uitgebars toe sy besef watse aaklige ding sy aangevang het. Van toe af het die ou man sy maaltye saam met die familie aan tafel geëet, en die skoondogter het alles in haar vermoë gedoen om te probeer vergoed vir die onmenslike behandeling van haar skoonpa. Daar is vandag ‘n opsigtelike gebrek aan respek vir die oues van dae. In busse staan tieners nie meer op om vir ouer mense sitplekke aan te bied nie. Volwassenes wys al te gou hulle frustrasie as hulle tydens inkopies agter bejaardes in die tou moet staan, en baie kinders het weinig waardering vir die wysheid van hulle grootouers. Wat selfs erger is, is dat so baie Christen-gesinne hulle bejaarde ouers in ouetehuise verwaarloos. Christene behoort ‘n voorbeeld te wees van sorgsaamheid vir diegene in nood, en behoort tyd te spandeer aan die oues van dae. God heg waarde aan die wysheid van die grysheid, en ons behoort dit ook te doen (Spr.16:31). “Wees gehoorsaam aan jou vader en moeder, jy is hulle kind; en moet hulle nie verag as hulle oud geword het nie.” Spr. 23:22 Vyf Kategorieë van Ouers In sy uiteensetting van die 5de Gebod verwoord Thomas Watson die ou Puriteinse tradisie, deur te onderskei tussen vyf kategorieë van vaderskap wat ons moet respekteer: Politieke vaders, antieke vaders, geestelike vaders, plaaslike vaders en natuurlike vaders. 1. Met ‘politieke vaders’ het hy bedoel: konings en prinse, goewerneurs en burgemeesters, munisipale-, provinsiale- en nasionale leiers. 2. Met ‘antieke vaders’ het hy bedoel: ons vaders in die Geloof, in sowel Bybelse tye as in die geskiedenis van die Kerk. (Dit sluit in Noag, Abraham, Isak, Jakob, Moses, Dawid, Elia, die profete en apostels; die vroeë kerkvaders; die sendelinge, bedienaars en die hervormers.) 3. Met ‘geestelike vaders’ het hy bedoel: die bedienaars, leraars of leiers aan wie ons verantwoording moet doen. 4. Met ‘plaaslike vaders’ het hy bedoel: ons werkgewers, ons onderwysers, of ons baas. 5. En met ‘natuurlike vaders’ bedoel hy natuurlik ons eie ouers en grootouers. “Uit eerbied vir jou God moet jy eerbied bewys aan oumense en hulle met respek behandel. Ek is die Here.” Lev. 19:32. Wat van Slegte Ouers? Sommige mense kan dalk sê:: “Hierdie Gebod is tog sekerlik nie op my van toepassing nie. My ouers was aaklig en het my as kind vreeslik misbruik...God verwag tog sekerlik nie van my om bose ouers te eerbiedig nie? Om die waarheid te sê, ja, God verwag wel van ons om ons ouers te eer - ongeag van hoe verwerplik hulle optrede ookal was. Genesis 8-9 is ‘n goeie voorbeeld daarvan. Kort ná die Vloed het Noag ‘n wingerd aangelê. Toe die druiwe ryp was, het hy wyn gemaak en só dronk geword, dat hy in sy tent flou geraak het. Hy was in ‘n minder goeie toestand, toe Gam - een van sy seuns - hom daar aangetref het. Gam het dadelik die ander twee broers daarvan vertel. Maar Sem en Jafet het hulle respek bewys deur die naakte Noag met ‘n kombers te bedek, sonder om na sy naaktheid te kyk. Die Skrif wys ons daarop dat Gam en sy nageslag vervloek is, omdat hy geweier het om sy pa te eerbiedig, selfs al was Noag se optrede onverskoonbaar. Sem en Jafet en hulle nageslagte, daarenteen, was deur God geseën oor die wyse waarop hulle hul pa eerbiedig het. Ons behoort ook ons ouers te eerbiedig, omdat ons weet dat dit God behaag. Eer die Owerheid Ouers moet hulle kinders leer om alle wettige gesag te eerbiedig, beginnende by hulle eie ouers. Die welsyn van individuele gesinne berus op gehoorsaamheid aan die 5de Gebod. Maar dit ook gaan oor veel meer: Die wat nooit leer om hulle ouers tuis te respekteer nie, sal waarskynlik ook nie hulle onderwysers by die skool respekteer nie, en wanneer sulke mense graad vang, sal hulle waarskynlik ook nie die gereg respekteer nie. Hierdie gebod beveel ons nie om ons ouers altyd te gehoorsaam nie, maar wel om hulle altyd te eer. Dit het te make met jou stemtoon en die ingesteldheid van jou hart, wat duidelik jou respek moet weerspieël. Die Bybel waarsku dat oordeel dié sal tref wat hulle ouers nie eer nie - “Die oë van die man wat met sy vader spot en vir wie dit benede hom is om sy moeder te gehoorsaam, sal uitgepik word deur die kraaie, opgevreet word deur die roofvoëls.” Spr. 30:17. Eerbiedig of Gehoorsaam? Om jou ouers te eerbiedig (veral onredelike, ongelowige ouers) behels nie om toe te gee aan al hulle planne om hulle kinders van toewyding aan God te weerhou nie. As ouers oormatig besitlik, of oordonderend en dominerend is, staan hulle kinders nie onder enige verpligting om oormatige tyd en energie aan hulle voorskrifte en manipulering af te staan nie. Ons vernaamste verantwoordelikheid is om ons Hemelse Vader, die Here ons Skepper en Regter, te vereer. Ons verantwoordelikheid om ons ouers te eer, kom tweede – ná ons plig teenoor ons God. Beskerming en Stabiliteit Die 5de Gebod beskerm alle mense teen hoogmoed en arrogansie - deur die opdrag om aan ouer mense respek te betoon, en deur die jeug daarvan te weerhou om te maak nes hulle wil. Die 5de Gebod bied beskerming teen die onstabiliteit van die jeug en die selfsug van volwassenheid. Dit verskaf stabiliteit deur ons teen impulsiwiteit, voortvarendheid en onervarenheid te beskerm. Gehoorsaamheid aan hierdie Gebod is die hoofpad na seën. “Die Here het...gesê: Wees heilig, want Ek die Here julle God is heilig. Elkeen van julle moet eerbied hê vir sy ma en sy pa.” Lev.19:1-3. Aankoop Die Tien Gebooie Hier DR. PETER HAMMOND is ‘n sendeling, spreker en die outeur van ‘The Ten Commandments - God’s Perfect Law of Liberty’ 021 689 4480 of [email protected]
0 Comments
Leave a Reply. |
Meer Artikels
All
Archives
October 2020
|